26. En nou, God van Israel, laat die woorde asseblief waar word wat U gesê het vir u dienaar, my pa Dawid.
27. Maar sal God regtig op die aarde woon? Daar is nie genoeg plek vir U in die hoogste hemel nie, en hierdie tempel wat ek gebou het, het nóg minder plek.
28. Maar my God die Here, luister nou wanneer ek bid en soebat, luister na wat ek vir U vra wanneer ek, u dienaar, vandag tot U bid.
29. U moet asseblief altyd sorg vir hierdie tempel. Dit is die plek waar U gesê het U wil wees. Luister na die gebed wat ’n dienaar van U bid wanneer hy na hierdie plek kyk en bid.
30. Luister wanneer u dienaar en u volk Israel bid en soebat terwyl hulle na hierdie plek kyk en bid. En wanneer U dit hoor in u woonplek, die hemel, vergewe dan ons sonde.