1 Konings 5:1-7 Bybel vir Almal (ABA)

1. Koning Hiram van Tirus was altyd ’n vriend van Dawid totdat Dawid gesterf het. Toe Hiram hoor dat hulle vir Salomo gesalf het om koning te wees ná sy pa, het hy party van sy amptenare na Salomo toe gestuur.

2. Salomo het vir die amptenare gesê hulle moet vir Hiram sê:

3. “Jy weet self dat my pa Dawid oorlog moes maak teen al die volke rondom sy land totdat die Here hom laat wen het teen hulle. Daarom kon hy nie ’n tempel bou vir sy God die Here nie.

4. Maar nou het my God die Here vir my vrede gegee met al die volke rondom my land. Ek het nie vyande nie en daar is nie gevaar nie.

5. En daarom wil ek nou ’n tempel bou vir my God die Here. Ek wil dit doen soos die Here vir my pa Dawid gesê het. Die Here het gesê: ‘Ek sal jou seun koning laat word ná jou, en hý sal die tempel bou vir My.’

6. Nou moet jy vir jou werkers sê hulle moet vir my sederbome afkap op die Libanon-berg. My werkers sal saam met jou werkers werk. Ek sal jou werkers betaal, jy moet sê hoeveel ek vir hulle moet gee. Jy weet self ons het nie mense wat so goed bome kan afkap soos die mense van Sidon nie.”

7. Hiram was baie bly toe hy Salomo se boodskap kry. Hy het gesê: “Ek prys die Here vandag dat Hy vir Dawid so ’n wyse seun gegee het om koning te wees oor hierdie belangrike volk.”

1 Konings 5