1 Konings 11:1-18 Bybel vir Almal (ABA)

1. Koning Salomo was lief vir baie vroue van ander lande. Hy het getrou met die dogter van die farao en ook met Moabitiese vroue, Ammonitiese vroue, Edomitiese vroue, Sidoniese vroue en Hetitiese vroue.

2. Die Here het vir die Israeliete gesê: “Julle moenie by daardie volke kom nie, en hulle moenie by julle kom nie, want hulle sal julle verlei om ander gode te dien.”Dit was die vroue vir wie Salomo lief was.

3. Hy het getrou met 700 vroue wat dogters van konings was en met 300 byvroue, en sy vroue het hom verlei.

4. Toe Salomo oud geword het, het sy vroue hom verlei om ander gode te dien. Hy het toe nie meer sy God die Here met sy hele hart gedien soos sy pa Dawid gedoen het nie.

5. Salomo het begin om vir Astarte te aanbid. Astarte was die godin van die Sidoniërs. Salomo het ook vir Milkom, die afgod van die Ammoniete, aanbid.

6. Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, hy het nie aangehou om die Here te dien soos sy pa Dawid nie.

7. Hy het op die berg naby Jerusalem ’n offer-plek gebou vir Kemos, die afgod van die Moabiete, en vir Molek, die afgod van die Ammoniete.

8. Hy het dit gedoen vir al sy vroue wat van ander lande gekom het, sodat hulle wierook kon brand en kon offer vir al hulle gode.

9. Die Here het kwaad geword vir Salomo, want Salomo het opgehou om die Here te dien, Salomo het nie meer die God van Israel gedien nie, die God wat twee maal aan hom verskyn het.

10. Die Here het vir Salomo gesê hy moenie ander gode begin dien nie, maar Salomo het nie gedoen wat die Here gesê het nie.

11. Die Here het vir Salomo gesê: “Jy het verkeerd gedoen, jy is ongehoorsaam aan my verbond en jy het nie gedoen wat Ek in my wette vir jou gesê het nie. Daarom sal Ek jou land wegvat en Ek sal dit gee vir een van jou amptenare. Ek sal dit doen, dit is seker.

12. Maar Ek was lief vir jou pa Dawid, en daarom sal Ek dit nie doen terwyl jy lewe nie.

13. Ek sal die land wegvat van jou seun. Ek sal ook nie die hele land wegvat nie. Ek sal vir jou seun een stam laat oorbly omdat Ek lief was vir my dienaar Dawid en omdat Ek lief is vir Jerusalem, die stad wat Ek gekies het.”

14. Die Here het iets laat gebeur sodat Hadad ’n vyand van Salomo geword het. Hadad was ’n Edomiet. Hy was van die koningsfamilie van die land Edom.

15. In die tyd toe Dawid gelewe het, het die Israeliete oorlog gemaak teen die Edomiete. Joab, die hoof van die leër, het die manne gaan begrawe wat in die oorlog gesterf het. Joab het al die mans en die seuns in die land Edom doodgemaak.

16. Joab en al die manne van Israel het ses maande lank daar gebly, en hulle het al die mans en die seuns doodgemaak.

17. Maar Hadad en ’n paar manne van Edom het na Egipte gevlug. Die manne was amptenare van Hadad se pa. Hadad was ’n jong seun.

18. Hadad en die manne het uit die land Midian gegaan en hulle het in die land Paran gekom. Hulle het manne van Paran saamgeneem en hulle het in Egipte gekom by die farao, die koning van Egipte. Die koning het vir Hadad ’n huis gegee en hy het gesê hoeveel kos Hadad moet kry. Hy het ook vir Hadad grond gegee.

1 Konings 11