Spreuke 14:14-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. 'n Onbetroubare mens kry sy verdiende loon;'n goeie mens ontvang meer as sy beloning.

15. Wie ervaring kortkom, glo alles wat gesê word;'n verstandige mens oorweeg elke tree wat hy gee.

16. Wie wysheid het, is versigtig en vermy die kwaad;wie wysheid kortkom, is roekeloos en selfversekerd.

17. Wie kort van draad is, begaan dwaashede;'n agterbakse mens maak hom gehaat.

18. Mense wat ervaring kortkom, sit met hulle eie dwaasheid;verstandige mense word met kennis bekroon.

19. Slegte mense moet voor goeies buig,goddeloses moet buig wanneer 'n regverdige by sy huis uitkom.

20. 'n Arm mens word selfs deur sy buurman verstoot;'n ryk man het baie vriende.

21. Wie sy naaste verag, doen sonde;wie medelye het met die mens in nood, met hom gaan dit goed.

22. Wie altyd op kwaad uit is, is op die verkeerde pad;wie goed doen, geniet liefde en trou.

23. Harde werk bring beloning;om net te praat, bring gebrek.

24. Wyse mense word bekroon met rykdom;die dwaasheid van dwase mense lei na meer dwaasheid.

25. 'n Betroubare getuie red lewens;die een wat leuens kwytraak, maak alles vals.

26. Wie die Here dien, het daarin 'n veilige toevlug,en ook sy kinders vind daar skuiling.

27. Wie die Here dien, vind daarin 'n bron van lewe;dit laat jou die strikke van die dood ontkom.

28. 'n Koning met baie onderdane is hoog in aansien;een met min onderdane gaan te gronde.

29. 'n Geduldige mens is baie verstandig;een wat kort van draad is, stel sy dwaasheid ten toon.

30. 'n Kalm gemoed hou die liggaam gesond;hartstog vreet 'n mens op.

31. Wie 'n arm mens verdruk, beledig sy Maker;wie hom oor 'n arm mens ontferm, eer God.

Spreuke 14