Romeine 2:13-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. Nie dié wat die wet hoor, word deur God vrygespreek nie, maar dié wat doen wat die wet sê, sal vrygespreek word.

14. Wanneer heidene, wat nie die wet het nie, tog vanself dinge doen wat die wet vereis, is hulle vir hulleself 'n wet al het hulle nie die wet nie.

15. Die optrede van sulke mense bewys dat die eise van die wet in hulle harte geskrywe staan. Ook hulle gewetens getuig daarvan wanneer hulle in 'n innerlike tweestryd deur hulle gedagtes aangekla of vrygespreek word.

16. Dit sal aan die lig kom op die dag wanneer God deur Christus Jesus oor die verborge dinge van die mense sal oordeel, ooreenkomstig die evangelie wat ek verkondig.

17. Jy, jy sê jy is 'n Jood, jy verlaat jou op die wet van Moses, jy beroem jou daarop dat God jou God is,

18. jy ken sy wil en jy onderskei die dinge waar dit werklik op aankom, omdat jy deur die wet onderrig word.

19. Jy is daarvan oortuig dat jy 'n gids vir die blindes is, 'n lig vir dié wat in die duisternis is,

20. 'n leermeester van dié wat onkundig is, 'n onderwyser van dié wat niks weet nie, omdat die wet vir jou die samevatting is van kennis en waarheid —

21. jy dan, wat 'n ander leer, leer jy jouself? Jy wat preek dat 'n mens nie mag steel nie, steel jy nie?

22. Jy wat sê 'n mens mag nie egbreuk pleeg nie, pleeg jy nie egbreuk nie? Jy wat 'n afsku het van afgode, beroof jy nie hulle tempels nie?

23. Jy wat jou op die wet beroem, doen jy God nie oneer aan deur sy wet te oortree nie?

24. Inderdaad, soos daar geskrywe staan, “as gevolg van julle optrede word die Naam van God deur die heidennasies belaster.”

25. Die besnydenis het waarde alleen as jy die wet van Moses onderhou. Maar as jy die wet voortdurend oortree, is jou besnydenis niks anders as onbesnedenheid nie.

26. As die onbesnedene die voorskrifte van die wet onderhou, sal God dan nie sy onbesnedenheid as besnedenheid reken nie?

27. Ja, iemand wat kragtens sy afkoms 'n onbesnedene is, maar tog die wet onderhou, sal jou selfs veroordeel, vir jou wat met wetsvoorskrifte en besnydenis en al die wet oortree.

28. Nie hy is 'n Jood wat dit uiterlik is nie, en nie dit is besnedenheid wat uiterlik aan die liggaam gedoen is nie.

29. Nee, hy is 'n Jood wat dit innerlik is, en dit is besnedenheid wat in die hart gedoen is deur die Gees, nie volgens die wetsvoorskrifte nie. So iemand ontvang lof, nie van mense nie, maar van God.

Romeine 2