Rigters 3:7-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. Die Israeliete het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hulle het die Here hulle God vergeet en die Baäls en die gewyde pale gedien.

8. Toe het die Here kwaad geword vir die Israeliete. Hy het hulle oorgegee in die mag van koning Kusan-Risatajim van Mesopotamië en hulle was ag jaar sy onderdane.

9. Toe het die Israeliete tot die Here geroep, en Hy het vir hulle 'n redder na vore laat kom wat hulle gered het. Hy was Otniël seun van Kenas, 'n jonger broer van Kaleb.

10. Die Gees van die Here was op hom en hy het oor Israel geregeer. Otniël het oorlog gemaak teen koning Kusan-Risatajim van Mesopotamië, en die Here het hom oorgegee in die mag van Otniël. Hy het vir Kusan-Risatajim verslaan.

11. Daarna was daar veertig jaar lank vrede in die land, en toe is Otniël seun van Kenas dood.

Rigters 3