9. Jy moet die Leviete dan nader bring voor die tent van ontmoeting en die hele gemeente van Israel daar bymekaar laat kom.
10. Jy moet die Leviete nader bring voor My, die Here, en daar moet die Israeliete hulle hande op die Leviete lê.
11. Aäron moet dan die Leviete as 'n beweegoffer van die Israeliete aan My wy sodat hulle die werk in my diens kan verrig.
12. “Die Leviete moet hulle hande op die koppe van die twee bulle sit. Die een bul moet as sondeoffer en die ander as brandoffer vir My, die Here, berei word, om vir die Leviete versoening te doen.
13. Jy moet die Leviete in diens van Aäron en sy seuns stel en as 'n beweegoffer aan My wy.
14. Jy moet hulle van die res van die Israeliete afsonder dat hulle aan My kan behoort.
15. Nadat jy die Leviete gereinig en as beweegoffer aan My gewy het, moet hulle die diens in die tent van ontmoeting gaan behartig.
16. Van alle Israeliete behoort die Leviete in 'n besondere sin aan My, want Ek het hulle in die plek van al Israel se eersgebore seuns as my besondere eiendom vir My opgeëis.
17. Toe Ek al die eersgeborenes in Egipte getref het, het Ek die eersgeborenes van mens en dier in Israel vir My afgesonder.