Numeri 8:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die Here het vir Moses gesê:

2. “Praat met Aäron en sê vir hom: As jy die lampies van die kandelaar vassit, moet hulle al sewe na die voorkant toe lig gee.”

3. Aäron het toe so gemaak soos die Here vir Moses beveel het, en die lampies aan die voorkant van die kandelaar vasgesit.

4. Die kandelaar is so gemaak: van die voetstuk af tot by die kroonblare is dit van geslae goud. Aäron het dit gemaak volgens die model wat die Here vir Moses gewys het.

5. Die Here het vir Moses gesê:

6. “Sonder die Leviete van die res van die Israeliete af en reinig hulle.

7. Jy moet hulle soos volg reinig: sprinkel reinigingswater oor hulle en laat hulle hulle hele liggaam kaalskeer en hulle klere was. So moet hulle hulleself reinig.

8. Dan moet hulle 'n jong bul vat, met die graanoffer van meel met olie gemeng wat daarby hoort; 'n tweede jong bul moet jy as sondeoffer vat.

9. Jy moet die Leviete dan nader bring voor die tent van ontmoeting en die hele gemeente van Israel daar bymekaar laat kom.

10. Jy moet die Leviete nader bring voor My, die Here, en daar moet die Israeliete hulle hande op die Leviete lê.

11. Aäron moet dan die Leviete as 'n beweegoffer van die Israeliete aan My wy sodat hulle die werk in my diens kan verrig.

12. “Die Leviete moet hulle hande op die koppe van die twee bulle sit. Die een bul moet as sondeoffer en die ander as brandoffer vir My, die Here, berei word, om vir die Leviete versoening te doen.

13. Jy moet die Leviete in diens van Aäron en sy seuns stel en as 'n beweegoffer aan My wy.

Numeri 8