6. Die koningin het langs die koning gesit. Hy het vir my gevra: “Hoe lank sal jou reis duur en wanneer sal jy terug wees?”Hy was die saak dus goedgesind, hy het my die opdrag gegee. Ek het vir hom 'n tyd aangedui
7. en toe vir hom gevra: “As die koning dit goedvind, laat ek briewe kry aan die goewerneurs in Wes-Eufraat, sodat hulle my vrye deurgang kan gee tot ek in Juda aankom.
8. Ek het ook 'n brief aan Asaf nodig, die opsigter oor die staatsbos, dat hy my kan voorsien van hout om die poorte van die vesting by die tempel te maak, en vir die stadsmuur en vir die huis wat ek sal bewoon.”My God het sy goeie hand oor my gehou, en die koning het my versoek toegestaan.
9. Ek het by die goewerneurs in Wes-Eufraat gekom en die briewe van die koning aan hulle oorhandig. Die koning het offisiere en ruiters met my saamgestuur.
10. Toe Sanballat die Goroniet en Tobija die Ammonitiese amptenaar dit hoor, was dit vir hulle slegte nuus. Hulle het dit as 'n groot ramp beskou dat daar iemand gekom het wat iets goeds vir die Israeliete wou doen.