1. Die Fariseërs en die Sadduseërs het gekom om Jesus op die proef te stel. Hulle het Hom gevra om vir hulle as teken uit die hemel 'n wonder te doen.
2. Maar Hy antwoord hulle: “In die aand sê julle: ‘Daar kom mooi weer, want die lug is rooi;’
3. in die môre sê julle: ‘Vandag sal dit onweer wees, want die lug is dynserig rooi.’ Julle weet hoe om die voorkoms van die lug te beoordeel, maar die tekens van die tye kan julle nie onderskei nie.
4. 'n Slegte en afvallige geslag wil 'n teken hê, en geen teken sal aan hulle gegee word nie behalwe die teken van Jona.”Hy het hulle daar gelaat en weggegaan.
5. Die dissipels het na die oorkantste oewer toe gegaan, maar vergeet om brood saam te neem.
6. Jesus het vir hulle gesê: “Pas op en wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs.”