Matteus 11:4-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. Jesus antwoord hulle: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien:

5. Blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, en aan armes word die evangelie verkondig.

6. En gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie.”

7. Toe hulle weggaan, het Jesus met die mense oor Johannes begin praat en gesê: “Waarna het julle in die woestyn gaan kyk? Na 'n riet wat deur die wind heen en weer gewaai word?

8. Nee? Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? 'n Man met deftige klere aan? Nee, kyk, dié wat deftig aantrek, kry 'n mens in koninklike paleise.

9. Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? 'n Profeet? Ja, Ek verseker julle, nog meer as 'n profeet.

10. Dit is hy van wie daar geskrywe staan:“ ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit;hy sal die pad vir jou regmaak.’

11. “Dit verseker Ek julle: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter is as Johannes die Doper nie, en tog is die geringste in die koninkryk van die hemel groter as hy.

12. Sedert die dae van Johannes die Doper tot nou toe breek die koninkryk van die hemel vir homself 'n pad oop, en mense wat hulle kragtig inspan, kry dit in besit.

13. Al die profete en die wet het tot op Johannes geprofeteer,

14. en as julle dit wil aanvaar: Johannes is die Elia wat sou kom.

15. Wie ore het, moet luister.

16. “Waarmee moet Ek hierdie geslag vergelyk? Hulle is net soos kinders wat op die markpleine vir mekaar sit en roep:

17. “ ‘Ons het vir julle op die fluit gespeel,en julle het nie gedans nie!Ons het 'n treurlied gesing,en julle het nie gehuil nie!’

18. “Johannes het gekom en nie geëet of gedrink nie, en hulle sê: ‘Hy is van die duiwel besete.’

19. Die Seun van die mens het gekom en geëet en gedrink, en hulle sê: ‘Kyk daar, 'n vraat en 'n wynsuiper, 'n vriend van tollenaars en sondaars.’ Maar God tree met wysheid op, en sy werke bewys dit.”

20. Toe het Jesus die dorpe waarin Hy die meeste van sy wonderdade gedoen het, begin verwyt omdat hulle hulle nie bekeer het nie:

21. “Ellende wag vir jou, Gorasin! Ellende wag vir jou, Betsaida! As in Tirus en Sidon die wonderdade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle hulle lankal in sak en as bekeer het.

22. Maar Ek sê vir julle: Vir Tirus en Sidon sal dit in die oordeelsdag draagliker wees as vir julle.

Matteus 11