24. “'n Leerling is nie hoër as sy leermeester en 'n slaaf nie hoër as sy eienaar nie.
25. 'n Leerling moet tevrede wees as dit met hom gaan soos met sy leermeester, en 'n slaaf as dit met hom gaan soos met sy eienaar. As hulle die hoof van die huis die skeldnaam Beëlsebul gegee het, sal hulle dan nie sy huisgenote met baie erger name uitskel nie?”
26. “Moet dus nie vir mense bang wees nie. Daar is niks bedek wat nie openbaar gemaak sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie.
27. Wat Ek vir julle in die donker sê, moet julle in die daglig sê, en wat in julle oor gefluister word, moet julle van die dakke af uitbasuin.
28. Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan.
29. “Is twee mossies nie vir 'n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie.
30. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel.