Markus 5:21-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

21. Jesus het daarna met die skuit teruggevaar oorkant toe en toe Hy nog daar by die see was, het 'n groot menigte om Hom saamgedrom.

22. Een van die raadslede van die sinagoge, 'n man met die naam Jaïrus, kom toe daar aan. Net toe hy vir Jesus sien, val hy op sy knieë voor Hom

23. en smeek Hom dringend: “My dogtertjie lê op haar uiterste. Kom lê tog u hande op haar, sodat sy kan gesond word en lewe.”

24. Hy het saam met hom gegaan. 'n Groot menigte het agter Hom aan gegaan en hulle het van alle kante af teen Hom gedruk.

25. Daar was ook 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het.

26. Sy het baie gely onder die behandeling van talle dokters en het alles wat sy gehad het, daaraan bestee. Sy het egter geen baat daarby gevind nie; haar toestand het eerder vererger.

27. Sy het van Jesus gehoor en in die gedrang nader gekom en van agter af aan sy klere geraak,

28. want sy het gedink: as ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word.

29. En dadelik het die bron van haar bloedvloeiing opgedroog, en sy kon aan haar liggaam agterkom dat sy van haar kwaal ontslae was.

Markus 5