11. Hulle is vir julle verbode en julle mag glad nie van dié diere eet of selfs raak aan een wat dood is nie.
12. Alle waterdiere wat nie vinne en skubbe het nie, is dus vir julle verbode.
13. “In die geval van diere met vlerke is die volgende soorte verbode en hulle mag dus nie geëet word nie: arende, lammervangers en visarende;
14. aasvoëls en valksoorte;
15. al die kraaisoorte;
16. volstruise, nagvalke, seemeeue en alle soorte roofvoëls;
17. uile, visvangers, ibisse,
18. flaminke, pelikane, swane,
19. ooievaars, al die reiersoorte, hoep-hoepe en vlermuise.
20. “Alle insekte wat vlerke het en op pote loop, is vir julle verbode.
21. Julle mag egter dié eet waarvan die pote so is dat hulle kan spring.
22. Dit sluit in alle soorte sprinkane en krieke.
23. Alle ander insekte wat vlerke het en op pote loop, is vir julle verbode.
24. “Sommige diere se karkasse maak iemand wat net daaraan raak, onrein vir die res van die dag.
25. As iemand die karkas van so 'n dier gedra het, moet hy sy klere was, maar hy is vir die res van die dag onrein.
26. Dit is alle mak diere waarvan die pote nie volledig gesplete is nie en wat nie ook herkou nie. Dit is onrein diere, en elkeen wat aan die karkas van so 'n dier raak, is onrein.
27. Verder is alle viervoetige wilde diere wat nie hoewe het nie, onrein. As iemand aan die karkas van so 'n dier raak, is hy onrein vir die res van die dag.
28. As hy so 'n karkas gedra het, moet hy sy klere was, maar hy is nog vir die res van die dag onrein.
29. “Die volgende diertjies wat volop voorkom in die veld, moet julle as onrein beskou: molle, muise en al die akkedissoorte