19. en toe staan die versteekte manskappe op uit hulle skuilplekke en storm, net toe hy sy hand uitsteek. Hulle is die stad in en het dit ingeneem en dit dadelik aan die brand gesteek.
20. Toe die manne van Ai terugkyk, sien hulle die rook van die stad in die lug opstyg. Hulle kon nêrens heen vlug nie, nie hiernatoe of soontoe nie, want Josua se manne wat woestyn se kant toe gevlug het, het omgedraai na hulle agtervolgers toe.
21. Josua en die hele Israel het gesien die versteekte manskappe vat die stad, en toe die rook van die stad uitslaan, draai hulle om en val die manne van Ai aan.
22. Dié mense het die stad verlaat om die Israeliete tegemoet te gaan, maar daar was nou Israeliete weerskante van hulle, en dié het hulle neergevel tot daar nie een oor was wat ontkom en vrygeraak het nie.
23. Die Israeliete het die koning van Ai gevang en hom na Josua toe gevat.