7. Julle voorvaders het na My geroep om hulp, en Ek het dit donker laat word tussen julle en die Egiptenaars en die see oor die Egiptenaars laat kom sodat dit hulle bedek het. Julle eie oë het gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het. Daarna het julle lank in die woestyn gebly.
8. “Toe het Ek julle gebring na die land van die Amoriete wat oos van die Jordaan gewoon het. Hulle het teen julle oorlog gemaak, maar Ek het hulle in julle mag oorgegee sodat julle hulle land in besit kon neem. Ek het hulle uitgeroei om vir julle plek te maak.
9. “Toe Balak seun van Sippor en koning van Moab teen Israel oorlog wou maak, het hy vir Bileam seun van Beor laat roep om 'n vloek oor julle uit te spreek.
10. Maar Ek het nie na Bileam geluister nie, en hy moes julle teen wil en dank seën. So het Ek julle gered uit die hande van Balak.
11. “Julle het deur die Jordaan getrek en by Jerigo gekom. Die mense wat in besit was van Jerigo, die Amoriete, Feresiete, Kanaäniete, Hetiete, Girgasiete, Hewiete en Jebusiete, het teen julle oorlog gemaak, maar Ek het hulle in julle mag oorgegee.