12. Ek het al vantevore die twee Amoritiese konings laat moed verloor, en dít het hulle voor julle uit verdryf, nie julle swaarde en julle pyl en boë nie.
13. “Ek het julle 'n land gegee wat julle nie bewerk het nie, stede wat julle nie gebou het nie, maar waar julle kon gaan woon; julle eet van wingerde en olyfboorde wat julle nie geplant het nie.
14. “Betoon dan nou eerbied aan die Here en dien Hom met opregtheid en met trou. Sien af van die gode wat julle voorvaders anderkant die Eufraat en in Egipte gedien het, en dien die Here.
15. Of, as julle dit nie goedvind om die Here te dien nie, kies dan vandag wie julle wil dien: die gode wat julle voorvaders gedien het anderkant die Eufraat, of die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.”
16. Die volk het geantwoord: “Ons dink glad nie daaraan om die Here te verlaat en ander gode te dien nie.
17. Dit is die Here ons God wat ons en ons voorvaders uit Egipte, die plek van slawerny, gebring het. Hy het daardie groot wonders voor ons oë gedoen en Hy het ons beskerm op die hele pad wat ons gekom het en teen al die volke deur wie se gebiede ons getrek het.