Josua 22:21-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

21. Die mense van Ruben, Gad en die halwe Manassestam het vir die hoofde van die Israelitiese familiegroep gesê:

22. “Die Here alleen is God, die Here alleen is God! Hy weet, en Israel moet weet: as dit in verset en ontrou teen die Here was, dan moet julle ons vandag nie spaar nie.

23. Of ons vir ons 'n altaar gebou het om die Here te verlaat en daarop brandoffers, graanoffers en maaltydoffers te bring, dit sal die Here self vasstel.

24. Nee, dit was uit kommer dat ons dit gedoen het. Ons het gedink môre-oormôre sê julle nageslag dalk vir ons s'n: ‘Wat het julle te doen met die Here die God van Israel?

25. Die Here het 'n grens gestel tussen ons en julle, die Jordaan. Julle het nie 'n deel in die Here nie!’ So sou julle nageslag ons s'n kon verhinder om die Here te dien.

26. Ons het toe gedink ons moet vir ons die altaar bou, nie vir brandoffers of ander diereoffers nie,

27. maar as 'n getuie tussen ons en julle en tussen ons nageslagte, dat ons die diens aan die Here by sy heiligdom sal uitvoer met ons brandoffers, ons ander diereoffers en ons maaltydoffers, en dat julle nageslag nie later vir ons s'n sal sê: ‘Julle het nie 'n deel in die Here nie.’

28. “Ons het gedink as hulle dit later vir ons of ons nageslag sou sê, sou ons nageslag kon sê: ‘Kyk die model van die Here se altaar. Ons voorvaders het dit gemaak, nie vir brandoffers of ander diereoffers nie, maar as 'n getuie tussen ons en julle.’

29. Ons dink glad nie daaraan om teen die Here in verset te kom en Hom te verlaat deur 'n altaar te bou vir brandoffers, graanoffers en ander diereoffers bo en behalwe die altaar van die Here ons God voor sy tabernakel nie.”

Josua 22