Johannes 7:5-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. Selfs sy broers het nie in Hom geglo nie.

6. Jesus sê toe vir hulle: “Vir My het die tyd nog nie gekom nie, maar vir julle is enige tyd reg.

7. Die wêreld kan vir julle nie haat nie; maar hy haat My, omdat Ek openlik verklaar dat sy dade sleg is.

8. Gaan julle maar fees toe. Ek gaan nie na hierdie fees toe nie, omdat die tyd vir My nog nie reg is nie.”

9. Dit het Hy vir hulle gesê, en Hy het daar in Galilea gebly.

10. Nadat Jesus se broers na die huttefees toe vertrek het, het Hy self tog ook gegaan, nie openlik nie maar onopvallend.

11. Die Jode het toe by die fees na Hom gesoek en gevra: “Waar is hy?”

12. Onder die feesmenigte is daar baie oor Hom gefluister. Party mense het gesê: “Hy is 'n goeie man.” Maar ander het gesê: “Nee, hy mislei die mense.”

13. Tog het niemand openlik oor Hom gepraat nie, omdat hulle bang was vir die Jode.

14. Toe die feestyd al halfpad verby was, het Jesus na die tempel toe gegaan en die mense daar geleer.

15. Die Jode was verbaas en het gesê: “Waar kom hy aan die geleerdheid? Hy het dan geen opleiding gehad nie!”

16. Jesus het vir hulle gesê: “Wat Ek die mense leer, kom nie van Myself af nie, maar van Hom wat My gestuur het.

Johannes 7