Jesaja 37:9-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Daar het die koning berig gekry dat koning Tirhaka van Kus op pad is om hom aan te val. Toe die koning van Assirië dit hoor, het hy gesante na Hiskia toe gestuur met die boodskap:

10. “Sê vir koning Hiskia van Juda: Moenie dat jou God op wie jy vertrou, jou mislei met sy versekering dat Jerusalem nie in my mag oorgegee sal word nie.

11. Jy het mos gehoor hoe die konings van Assirië die een land na die ander verwoes het. Sal jý dan vrykom?

12. Kon die gode van die nasies wat deur my voorgangers uitgedelg is, hulle red: Gosan, Haran, Resef, die mense van Eden in Telassar?

13. Waar is die konings van Hamat en Arpad, die konings van Sefarwajim, Hena en Awwa?”

14. Hiskia het die briewe wat die gesante gebring het, gevat en gelees. Daarna het hy na die huis van die Here toe gegaan en die briewe in die teenwoordigheid van die Here oopgesprei.

15. Toe het hy tot die Here gebid:

16. “Here, Almagtige, God van Israel,U wat oor die gerubs troon,U alleen is God oor al die koninkryke van die aarde,U het die hemel en die aarde gemaak.

17. Hoor tog, Here, luister,kyk tog, Here, let tog op!“Hoor tog wat Sanherib gesê het; hy het U, die lewende God, in sy boodskap gesmaad!

18. Dit is waar, Here, die konings van Assirië het nasies met lande en al verwoes

19. en hulle gode verbrand, maar dit was nie gode nie, dit was die werk van mensehande, hout en klip; daarom is hulle vernietig.

20. Here ons God, red ons tog uit die mag van die Assiriese koning. Dan sal al die koninkryke van die aarde besef dat net U, Here, God is.”

21. Jesaja seun van Amos het vir Hiskia 'n boodskap gestuur: “So sê die Here die God van Israel: Ek het jou gebed oor koning Sanherib van Assirië verhoor.

22. “Dit is wat die Here oor Sanherib sê:Sion verag jou en lag jou uit,Jerusalem kyk jou met minagting agterna.

Jesaja 37