Jesaja 36:7-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. “En as jy vir my wil sê julle vertrou op die Here julle God, dit is mos Hy wie se hoogtes en altare Hiskia laat verwoes het toe hy vir Juda en Jerusalem gesê het: ‘Julle moet net by die altaar in Jerusalem aanbid.’

8. “Wil jy 'n ooreenkoms aangaan met my koning, die koning van Assirië? Ek gee jou twee duisend perde: sal jy die ruiters vir hulle kan voorsien?

9. Hoe sal jy weerstand kan bied teen één goewerneur, één van my koning se onbelangrikste amptenare? En dan vertrou jy op Egipte vir strydwaens en perde!

10. “Buitendien, ek het nie sonder die Here opgetrek teen hierdie land om dit te verwoes nie; die Here het vir my gesê: Trek op teen daardie land en verwoes dit.”

11. Toe sê Eljakim, Sebna en Joag vir die hoofadjudant: “Praat tog asseblief Aramees met ons, ons verstaan dit, maar moenie Judees met ons praat dat die manskappe op die muur dit kan verstaan nie.”

12. Maar die hoofadjudant antwoord: “Dink julle my koning het my net na julle koning en na julle toe gestuur om dié dinge te sê, en nie ook na die manne wat op die muur sit nie? Hulle sal hulle eie ontlasting moet eet en hulle eie urine moet drink, net soos julle!”

13. Toe gaan staan die hoofadjudant en skree hard in Judees: “Luister wat sê die groot koning, die koning van Assirië!

14. So sê die koning: Moenie dat Hiskia julle mislei nie! Hy kan julle nie red nie.

15. “En moenie dat Hiskia julle op die Here laat vertrou nie. Hiskia sê: ‘Die Here sal ons sekerlik red; dié stad sal nie oorgegee word in die mag van die koning van Assirië nie.’

16. Moenie na Hiskia luister nie, want so sê die koning van Assirië: ‘Maak vrede met my en kom uit na my toe, dan sal elkeen die vrugte van sy eie wingerdstok en van sy eie vyeboom eet en uit sy eie put water drink

Jesaja 36