Jeremia 26:8-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

8. Toe Jeremia klaar vir die volk alles gesê het wat die Here hom beveel het om vir hulle te sê, het die priesters en die profete en die hele volk hom gepak en gesê: “Jy moet beslis sterf!

9. Waarom tree jy in die Naam van die Here op as profeet en sê dan dat hierdie huis soos Silo sal word en dat hierdie stad verwoes sal word en sonder inwoners sal wees?”Die hele volk het in die huis van die Here om Jeremia saamgedrom.

10. Toe die amptenare van Juda al hierdie dinge verneem, is hulle van die paleis af na die tempel toe. Hulle het by die nuwe poort van die tempel gaan sit,

11. en die priesters en die profete het vir hulle en vir die hele volk gesê: “Hierdie man moet die doodvonnis kry, want hy het as profeet hierdie dinge teen die stad gesê. Julle het dit self gehoor.”

12. Toe antwoord Jeremia al die amptenare en die hele volk: “Die Here het my gestuur om as profeet op te tree teen hierdie huis en teen hierdie stad en om alles te sê wat julle gehoor het.

13. Maar as julle nou goed doen en julle gedrag en optrede verander en luister na wat die Here julle God vir julle sê, sal Hy die straf herroep wat Hy oor julle aangekondig het.

14. Ek is in julle mag. Maak met my wat goed en reg is in julle oë.

Jeremia 26