Jakobus 2:5-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. Luister, my liewe broers! Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof en om die koninkryk in besit te neem wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie?

6. Maar julle behandel die arm man met minagting. Is dit nie die rykes deur wie julle uitgebuit word nie, en is dit nie hulle deur wie julle voor die hof gesleep word nie?

7. Is dit nie hulle wat die goeie Naam skend van Hom aan wie julle behoort nie?

8. As julle werklik die wet van die koninkryk van God onderhou soos dit in die Skrif staan: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” dan doen julle reg.

9. Maar as julle die mense na die uiterlike beoordeel, doen julle sonde en veroordeel die wet van God julle as oortreders.

10. As iemand die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie.

11. God wat gesê het: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy nou nie egbreuk pleeg nie, maar wel moord, is jy tog 'n oortreder van die hele wet.

12. Praat en tree dan op soos mense wat geoordeel sal word volgens die wet wat vry maak.

13. Die oordeel sal onbarmhartig wees oor dié wat nie barmhartigheid betoon nie. Maar barmhartigheid triomfeer oor die oordeel.

14. Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so 'n geloof 'n mens red?

15. Sê nou daar is 'n broer of 'n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly,

16. en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan?

17. So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.

18. Maar iemand kan miskien sê: “Die een het die geloof en die ander het die dade.” Goed, wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade.

19. Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook -- en hulle sidder van angs.

20. Jou dwaas, wil jy 'n bewys hê dat geloof sonder dade nutteloos is?

21. Ons voorvader Abraham het sy seun Isak op die altaar gelê. Is dit nie op grond van wat hy gedoen het dat God hom vrygespreek het nie?

22. Jy sien dus dat sy geloof met dade gepaard gegaan het en dat dit eers deur dade volkome geword het.

Jakobus 2