Jakobus 2:10-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. As iemand die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie.

11. God wat gesê het: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy nou nie egbreuk pleeg nie, maar wel moord, is jy tog 'n oortreder van die hele wet.

12. Praat en tree dan op soos mense wat geoordeel sal word volgens die wet wat vry maak.

13. Die oordeel sal onbarmhartig wees oor dié wat nie barmhartigheid betoon nie. Maar barmhartigheid triomfeer oor die oordeel.

14. Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so 'n geloof 'n mens red?

15. Sê nou daar is 'n broer of 'n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly,

16. en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan?

17. So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.

18. Maar iemand kan miskien sê: “Die een het die geloof en die ander het die dade.” Goed, wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade.

Jakobus 2