Hebreërs 11:12-17-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Die gevolg was dat daar van een man, 'n man wat nie meer 'n kind kon verwek nie, kinders afgestam het so talryk soos die sterre van die hemelruim en so baie soos die sand van die see.

13. Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is.

14. Mense wat so praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na 'n vaderland.

15. As hulle terug verlang het na daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou hulle die geleentheid gehad het om daarheen terug te gaan.

16. Maar hulle het na 'n beter vaderland, dit is die hemelse, verlang. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie; trouens, Hy het vir hulle 'n stad gereed gemaak.

17-18. Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan. Ja, hy wat die belofte ontvang het en aan wie gesê is: “Uit Isak sal jou nageslag gebore word,” het gereed gestaan om sy enigste seun te offer.

Hebreërs 11