5. Toe Ananias dit hoor, het hy dood neergeval; en al die ander wat dit gehoor het, het baie bang geword.
6. 'n Paar van die jonges het nader gekom, hom toegedraai en gaan begrawe.
7. Omtrent drie uur later het sy vrou daar aangekom, onbewus van wat gebeur het.
8. Petrus vra toe vir haar: “Sê vir my, het julle die grond vir soveel verkoop?”“Ja,” sê sy, “vir soveel.”
9. Toe sê Petrus vir haar: “Waarom het julle ooreengekom om die Gees van die Here uit te tart? Die mense wat jou man begrawe het, is nou net weer by die deur, en hulle sal jou ook uitdra.”
10. Sy het onmiddellik voor Petrus dood neergeval. Die jongmanne het ingekom, gesien sy is dood, en haar by haar man gaan begrawe.
11. Die hele gemeente en al die ander mense wat hiervan gehoor het, het baie bang geword.
12. Deur die apostels het daar baie tekens en wonders onder die volk plaasgevind. En al die gelowiges het gereeld saamgekom in die Pilaargang van Salomo,
13. maar van die ander mense het niemand dit gewaag om by hulle aan te sluit nie al het die volk hulle hoog geag.