33. Toe die Raad dit hoor, was hulle woedend, en hulle wou die apostels doodmaak.
34. Een van die Fariseërs in die Raad, 'n man met die naam Gamaliël, wat as leermeester van die wet van Moses by die hele volk in hoë aansien was, het toe opgestaan en gevra dat die apostels 'n rukkie buitentoe gevat moet word.
35. Daarna sê hy vir die Raad: “Israeliete, julle moet versigtig wees wat julle met hierdie mense gaan doen.
36. 'n Tyd gelede was daar die geval van Teudas, wat in opstand gekom en daarop aanspraak gemaak het dat hy iemand van betekenis is. Hy het 'n aanhang gekry van omtrent vier honderd man. Hy is doodgemaak, en al sy volgelinge is verstrooi, en die opstand het op niks uitgeloop nie.
37. Daarna was dit Judas die Galileër, wat in die tyd van die volkstelling in opstand gekom het met 'n deel van die volk agter hom aan. Ook hy is om die lewe gebring, en al sy volgelinge is uitmekaar gejaag.