Handelinge 18:20-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

20. Hulle het hom gevra om langer te bly, maar hy wou nie.

21. Hy het van hulle afskeid geneem en gesê: “As God wil, kom ek na julle toe terug.”Hy het van Efese af weggegaan

22. en in Sesarea aangekom. Daarvandaan het hy Jerusalem toe gegaan en die gemeente gegroet, en toe na Antiogië toe vertrek,

23. waar hy 'n tyd lank gebly het.Daarna het hy weer vertrek en deur die landstreek van Galasië en Frigië gereis. Oral het hy die gelowiges geestelik versterk.

24. Intussen het daar 'n Jood met die naam Apollos, wat in Aleksandrië gebore is, in Efese aangekom. Hy was 'n begaafde spreker met 'n deeglike kennis van die Skrif.

25. Hy het in die leer van die Here onderrig ontvang en het met groot geesdrif gepraat en aan ander noukeurig alles oor Jesus geleer; maar die doop waarvan hy geweet het, was net dié van Johannes.

26. Hy het met vrymoedigheid in die sinagoge begin preek. Toe Priscilla en Akwila hom hoor, het hulle hom huis toe geneem en vir hom die leer van God nog duideliker gemaak.

Handelinge 18