8. Toe Jakob die twee seuns van Josef sien, vra hy: “En wie is hulle?”
9. Josef het sy pa geantwoord: “Dit is my seuns. God het hulle vir my in hierdie land gegee.”Jakob sê toe: “Bring hulle hier na my toe. Ek wil hulle seën.”
10. In sy hoë ouderdom was Israel se oë al sleg en hy kon nie goed sien nie. Josef het sy seuns tot teen Israel gebring, en hy het hulle gesoen en teen hom vasgedruk.
11. Toe sê Israel vir Josef: “Ek het nooit daaraan gedink dat ek jou weer sal sien nie, en hier laat God my nou ook nog jou kinders sien.”
12. Josef het sy seuns van sy pa se skoot af getel en voor hom gebuig.
13. Toe vat Josef die twee aan die hand: Efraim met sy regterhand, links van Israel, en Manasse met sy linkerhand, regs van Israel. Maar toe Josef hulle naby hom bring,
14. het Israel sy arms gekruis en sy regterhand op Efraim se kop gesit al was hy die jongste, en sy linkerhand op Manasse s'n al was hy die oudste.