Genesis 19:3-9 Afrikaans 1983 (AFR83)

3. Lot het egter so by hulle aangehou dat hulle by hom ingedraai en in sy huis ingegaan het. Hy het vir hulle 'n maaltyd klaargemaak: hy het ongesuurde brood gebak, en hulle het geëet.

4. Voor hulle die aand gaan slaap het, het die mans oral uit die stad uit, die mans van Sodom, oud en jonk, die hele klomp, die huis van Lot omsingel.

5. Hulle het vir Lot geroep en vir hom gevra: “Waar is die mans wat vanaand na jou toe gekom het? Bring hulle uit na ons toe. Ons wil geslagsgemeenskap met hulle hê.”

6. Toe het Lot na die mans van Sodom toe uitgegaan. Nadat hy die deur agter hom gesluit het,

7. het hy gesê: “Nee, vriende! Moenie so 'n verkeerde ding doen nie.

8. Ek het twee dogters. Hulle het nog nie gemeenskap met 'n man gehad nie. Ek sal hulle vir julle laat uitkom, doen julle dan met hulle wat julle wil. Moet net nie iets doen aan hierdie mans nie, want hulle het onder die beskerming van my dak ingekom.”

9. Toe roep die mans van Sodom: “Gee pad!” En hulle sê: “Hierdie kêrel het as vreemdeling hierheen gekom, en nou wil hy regter speel. Ons sal hom nog meer kwaad aandoen as vir sy besoekers.”Hulle het vir Lot teruggedruk en nader gekom om die deur oop te breek.

Genesis 19