Genesis 19:18-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

18. Maar hy sê vir hulle: “Asseblief tog, Menere,

19. u was al so goed vir my en u het my al so 'n groot guns bewys deur my lewe te spaar, maar ek sal nie berge toe kan vlug nie. Die ramp sal my inhaal voor ek daar is en ek sal omkom.

20. Kyk, hier naby is 'n dorpie waarheen ek kan vlug. Ek wil daarheen vlug en so my lewe red. Dit is maar 'n ou klein dorpie.”

21. Toe sê die engel vir hom: “Ook wat dit betref, staan ek jou versoek toe. Ek sal nie die dorp waarvan jy praat, verwoes nie.

22. Vlug gou daarnatoe, want ek kan niks aan die ander stede doen voordat jy in die dorpie aangekom het nie.”Dit is waarom hulle die dorpie Soar noem.

23. Net toe die son opkom, het Lot in Soar aangekom.

24. Toe het die Here swael en vuur van Hom af, uit die hemel uit, laat reën op Sodom en Gomorra.

25. En God het die stede en die hele vlakte verwoes en al hulle inwoners om die lewe gebring; selfs die plante in die omgewing is uitgeroei.

26. Lot se vrou het omgekyk en sy het in 'n soutpilaar verander.

27. Daardie oggend het Abraham vroeg opgestaan en na die plek toe gegaan waar hy in die teenwoordigheid van die Here gestaan het.

28. Toe Abraham in die rigting van Sodom en Gomorra en van die hele vlaktestreek kyk, sien hy oor die hele wêreld trek rook op asof dit 'n steenoond is.

29. Toe God die stede in die vlakte verdelg het waar Lot gewoon het, het God aan Abraham gedink en vir Lot laat wegkom uit die plek waar die verwoesting plaasgevind het.

Genesis 19