26. Dit is waarom hierdie feesdae Purim genoem word, na die woord Pur. Na aanleiding van alles wat in daardie brief van Mordegai geskryf is en wat hulle self van die gebeure gesien en belewe het,
27. het die Jode dit op hulle geneem en hulle en hulle nakomelinge en almal wat by hulle sou aansluit, onherroeplik verbind om voortaan elke jaar hierdie twee dae te vier. Dit moes telkens op die voorgeskrewe wyse en op die voorgeskrewe tyd plaasvind.
28. Hierdie dae moes herdenk en gevier word in elke geslag en in elke familie, in elke provinsie en in elke stad. Hierdie dae van die Purim mag nie afgeskaf word onder die Jode nie en hulle nakomelinge mag nooit daarvan vergeet nie.
29. Koningin Ester, dogter van Abigajil, en die Jood Mordegai het met hulle volle gesag in 'n tweede brief die reëlings oor die Purim bevestig.
30. Mordegai het briewe gestuur aan al die Jode in die honderd sewe en twintig provinsies van koning Ahasveros, hulle voorspoed toegewens en hulle van sy goeie trou verseker.
31. Hy het hulle gelas om hierdie dae van die Purim op die vasgestelde tyd te hou, soos hy, die Jood Mordegai, en koningin Ester dit vir hulle bepaal het, en soos hulle hulleself en hulle nakomelinge daartoe verbind het. Daar was ook voorskrifte oor hoe hulle moes vas en na God om hulp moes roep.
32. Dit was op Ester se bevel dat die voorskrifte vir hierdie Purimdae vasgestel is. Dit is toe in 'n boek neergeskryf.