Esra 8:23-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

23. Ons het dus gevas en die hulp van ons God gevra vir die onderneming, en Hy het ons gebede verhoor.

24. Daarna het ek twaalf van die priesters se leiers uitgesoek, Serebja en Gasabja en tien van hulle ampsgenote saam met hulle,

25. en toe die silwer en die goud en die tempelgereedskap volgens gewig onder hulle verdeel. Dit was die wydingsgeskenke vir die tempel van ons God wat geskenk is deur die koning en sy adviseurs en amptenare en deur al die Israeliete wat hulle nog in ballingskap bevind het.

26. Ek het alles geweeg en aan hulle oorhandig: twee en twintig ton silwer, honderd stukke silwerware met 'n gesamentlike gewig van ag en sestig kilogram, drie en 'n half ton goud,

27. twintig komme van goud met 'n gesamentlike gewig van ag en 'n half kilogram, en twee stukke van fyn gepoleerde brons, so kosbaar soos goud.

28. Daarna het ek vir die twaalf priesters gesê: “Julle is aan die Here gewy, hierdie goed is ook aan Hom gewy. Die silwer en die goud is vrywillige gawes aan die Here die God van julle voorvaders.

29. Wees wakker, pas dit op totdat julle dit uitweeg voor die hoofde van die priesters en die Leviete en voor die familiehoofde van Israel in Jerusalem binne in die tempelvertrekke.”

Esra 8