1. In die eerste regeringsjaar van koning Kores van Persië is die belofte vervul wat die Here by monde van Jeremia uitgespreek het: die Here het koning Kores van Persië laat besluit om dwarsoor sy ryk 'n proklamasie te laat afkondig. Die proklamasie, wat ook skriftelik was, het soos volg gelui:
2. “Koning Kores van Persië maak bekend: Die Here die God van die hemel het al die koninkryke van die aarde aan my gegee. Hy het my beveel om vir Hom 'n tempel in Jerusalem in Juda te bou.
3. Enigiemand onder julle wat aan sy volk behoort — mag sy God by hom wees — mag na Jerusalem in Juda toe gaan en die tempel gaan bou vir die Here die God van Israel. Hy is God in Jerusalem.