3. Die man het toe na die binneste vertrek toe gegaan en die mure weerskante van die ingang gemeet. Hulle was een meter dik. Die ingang self was drie meter wyd en die mure aan weerskante drie en 'n half meter lank.
4. Hy het die vertrek gemeet. Die lengte was tien meter en die breedte, net soos dié van die tempelvertrek, ook tien meter. Die man het vir my gesê: “Hierdie vertrek is die Allerheiligste.”
5. Daarna het hy die muur van die tempelgebou gemeet. Dit was drie meter dik. Buite om die tempelgebou was daar kamers aangebou, twee meter breed.
6. Die kamers was in drie verdiepings, elkeen met dertig kamers. Die muur waarop hierdie verdiepinggebou gerus het, was regoor elke verdieping dunner as regoor die vorige, sodat die verdiepings nie in die tempelmuur self nie maar in dié afsonderlike muur ingebou was.
7. Die tempelgebou was dus rondom toegebou tot bo toe, en die kamers van elke verdieping was breër as dié van die vorige. Daar het trappe opgegaan van die onderste verdieping af deur die middelste na die boonste toe.
8. Ek het gesien die tempelgebou is hoër as die ander gebou rondom. Die fondamente van die verdiepinggebou was 'n volle drie meter hoog.
9. Die muur van die verdiepinggebou aan die buitekant was twee en 'n half meter breed. Die terras tussen die verdiepings teen die tempelgebou
10. en die vertrekke rondom was tien meter.
11. Die ingange na die verdiepinggebou toe was van die terras af. Daar was ingange aan die noorde- en aan die suidekant. Die terras was rondom twee en 'n half meter breed.
12. Daar was 'n gebou aan die westekant van die tempelplein. Die gebou was vyf en dertig meter breed en vyf en veertig meter lank, en sy muur rondom was twee en 'n half meter dik.
13. Die man het eers die tempelgebou gemeet. Dit was vyftig meter lank. Daarna het hy die tempelplein agter die tempelgebou saam met die westelike gebou en sy mure gemeet, ook vyftig meter.
14. Voor die tempelgebou aan die oostekant was die tempelplein vyftig meter wyd.
15. Daarna het die man die westelike gebou aan die tempelplein agter die tempelgebou gemeet, saam met die gange weerskante van die groot gebou. Die afstand was vyftig meterDie voorste en die binneste tempelvertrekke, die toegangsportaal uit die binneste voorhof uit,
16. die drumpels, die hortjievensters en die gange rondom die tempelgebou, en ook die voorkante van die drumpels, was alles met hout oorgetrek. Van die grond af tot teen die vensteropenings was alles met hout oorgetrek, ook die vensteropenings self.