Esegiël 36:23-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

23. Ek sal die heiligheid van my groot Naam laat blyk wat onder die nasies in oneer gekom het. Julle het my Naam oneer aangedoen onder die nasies. Wanneer Ek my heiligheid laat blyk in wat Ek met julle doen voor die oë van die nasies, sal hulle besef dat Ek die Here is,” sê die Here my God.

24. “Ek sal julle tussen die nasies uit wegvat, julle uit al die lande bymekaarmaak en julle na julle land toe bring.

25. Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan word. Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van al julle afgodery.

26. Ek sal julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle 'n hart van vleis gee.

27. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.

28. Julle sal in die land woon wat Ek aan julle voorvaders gegee het, julle sal my volk wees en Ek sal julle God wees.

29. Ek sal julle bevry van alles waarmee julle julle verontreinig het, Ek sal die graan aanspreek en sorg dat dit baie is; Ek sal nie weer hongersnood oor julle bring nie.

30. Ek sal sorg dat daar baie vrugte aan die bome is en groot oeste op die lande sodat julle nie weer die vernedering onder die nasies beleef dat julle hongersnood het nie.

31. Dan sal julle terugdink aan julle bose optrede en julle gedrag wat nie goed was nie, en julle sal 'n afsku hê van julleself oor julle sonde en julle afskuwelike dade.

Esegiël 36