6. Ek het My daardie dag met 'n eed verbind om hulle uit Egipte uit te bring na 'n land toe wat Ek vir hulle verken het, 'n land wat oorloop van melk en heuning, 'n sieraad onder al die lande.
7. Ek het vir hulle gesê: ‘Gooi weg die afstootlike afgode, moet julle nie verontreinig met Egipte se afgode nie. Ek, die Here, is julle God.’
8. Maar hulle het hulle teen My verset, hulle wou nie na My luister nie. Hulle het nie hulle afstootlike afgode weggegooi nie en het nie afgesien van Egipte se afgode nie. Ek het gedink Ek sal my toorn oor hulle laat losbreek en my woede op hulle koel daar in Egipte,
9. maar Ek het gedoen wat die eer van my Naam vereis het. Ek wou nie dat my Naam oneer aangedoen word voor die oë van die nasies tussen wie my volk gewoon het nie, en toe het Ek My bekend gemaak aan hulle voor die oë van die nasies en my volk uit Egipte gebring.
10. “Ek het hulle uit Egipte gebring en hulle die woestyn in laat trek.
11. Ek het aan hulle my voorskrifte gegee en my bepalings aan hulle bekend gemaak, sodat elkeen wat daarvolgens optree, in die lewe sou bly.