Eksodus 39:20-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

20. Hulle het nog twee ander goue ringe gemaak en dit aan die twee skouerbande van die skouerkleed vasgesit, laag af aan die voorkant, aan die naat net bo die gordel.

21. Die ringe van die borssak is met 'n blou toutjie aan die ringe van die skouerkleed vasgemaak, net bokant die gordel van die skouerkleed, sodat die borssak nie van die skouerkleed af wegskuif nie. Dit alles is gedoen volgens die voorskrif van die Here aan Moses.

22. Die mantel wat saam met die skouerkleed gedra word, is as een stuk blou wolstof geweef.

23. In sy middel was daar 'n opening omgeboor, sterk soos 'n pantserhemp dat dit nie kan skeur nie.

24. Vir die some van die mantel het hulle granaatjies gemaak van goed geweefde blou, pers en bloedrooi wolstof.

25. Dan het hulle ook klokkies van suiwer goud gemaak en die klokkies tussen die granaatjies rondom die hele soom van die mantel vasgewerk,

26. een klokkie tussen elke twee granaatjies. Die mantel was vir diens bestem soos die Here dit vir Moses beveel het.

27. Hulle het ook priesterklere van linne geweef vir Aäron en sy seuns,

28. asook 'n tulband en mooi kopdoeke van linne, en linnebroeke van goed geweefde linne.

29. Hulle het ook 'n serp gemaak van goed geweefde linne, blou, pers en bloedrooi wolstof. Dit was weefwerk, soos die Here vir Moses beveel het.

Eksodus 39