5. Jy moet die draaghoute van doringhout maak en hulle met goud oortrek.
6. Sit die altaar dan neer voor die voorhangsel wat hang voor die ark met die getuienis, voor die deksel op die getuienis waar Ek jou sal ontmoet.
7. Elke oggend wanneer Aäron die lampe versorg, moet hy geurige wierook op die altaar brand.
8. Elke aand wanneer hy die lampe aansteek, moet hy wierook brand. Die wierookoffer moet altyd, ook deur julle nageslag, vir My, die Here, gebring word.
9. “Julle mag nie ongeoorloofde wierook op die wierookaltaar brand nie, ook nie brandoffers of graanoffers nie, en nie 'n drankoffer daarop uitgiet nie.
10. “Aäron moet een keer per jaar op die horings van die altaar versoening doen met die bloed van die sondeoffer. Ook julle nageslag moet een keer per jaar op die horings versoening doen. Die altaar is op 'n besondere manier gewy aan My, die Here.”