Eksodus 3:6-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

6. Verder sê Hy: “Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.”Toe maak Moses sy gesig toe, want hy was bang om na God te kyk.

7. Daarna sê die Here: “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem.

8. Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na 'n goeie en uitgestrekte land, 'n land wat oorloop van melk en heuning. Dit is die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete.

9. Die noodkrete van die Israeliete het My bereik, en Ek het ook aanskou hoe Egipte hulle verdruk.

10. Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry.”

11. Toe sê Moses vir God: “Wie is ék dat ek dit by die farao sou waag en dat ék die Israeliete uit Egipte sou bevry?”

12. God het Moses geantwoord: “Ek sal by jou wees en die bewys dat Ek jou gestuur het, sal dít wees: wanneer jy die volk uit Egipte bevry het, sal julle My by hierdie berg aanbid.”

13. Daarna sê Moses vir God: “Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur,’ en hulle vra vir my: ‘Wat is sy Naam?’ wat moet ek dan vir hulle sê?”

Eksodus 3