Eksodus 23:6-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

6. “Wanneer jy regspreek, mag jy 'n arme nie in 'n hofsaak veronreg nie

7. en moet jy wegbly van leuens sodat jy nie onskuldiges en regverdiges doodmaak nie. Ek, die Here, vind nie 'n skuldige onskuldig nie.

8. Wanneer jy regspreek, mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie, want dit maak dié wat sien, blind en laat die saak van die onskuldige skeef loop.

9. “Jy mag 'n vreemdeling nie laat verdruk nie. Julle ken die lewe van 'n vreemdeling, want julle was vreemdelinge in Egipte.”

10. “Ses jaar mag jy jou lande saai en die oes insamel,

11. maar die sewende jaar moet jy dit laat braak lê. Die armes onder jou mense mag van die opslag eet, en wat hulle laat oorbly, kan die wilde diere vreet. So moet jy ook met jou wingerd en olyfbome maak.

12. “In ses dae moet jy jou werk doen, maar op die sewende dag moet jy nie werk nie sodat jou beeste en donkies kan uitrus en jou werksmense en die vreemdelinge by jou 'n bietjie kan asem skep.

13. “Sorg dat julle alles doen wat Ek julle beveel het. Julle mag die naam van ander gode nie in julle gebede noem nie. Jy mag nie eers van hulle praat nie.”

Eksodus 23