9. As die eienaar egter sou besluit om haar vir sy seun as vrou te gee, moet sy soos 'n dogter behandel word.
10. As die eienaar 'n ander vrou vat, mag hy die byvrou haar kos, klere en huweliksreg nie ontsê nie.
11. As hy hierdie drie dinge nie vir haar gee nie, moet sy vrygelaat word sonder dat daar iets aan haar eienaar betaal word.”
12. “Wie iemand doodslaan, moet doodgemaak word.
13. Hy wat dit onopsetlik gedoen het deurdat God dit met hom laat gebeur het, kan vlug na 'n plek toe wat Ek vir jou sal aanwys.
14. Wanneer iemand egter 'n ander opsetlik doodmaak, moet jy hom selfs by die altaar wegvat en doodmaak.
15. “Wie aan sy pa of ma slaan, moet doodgemaak word.
16. “Wie 'n ander ontvoer om hom te verkoop of om hom in sy besit te hou, moet doodgemaak word.
17. “Wie sy pa of ma vloek, moet doodgemaak word.
20. “Wanneer 'n man sy slaaf of slavin met 'n stok slaan dat hy of sy onmiddellik doodgaan, moet dit gewreek word.
21. As so 'n slaaf dit vir 'n dag of twee oorleef, is daar nie 'n saak nie, want die slaaf is die man se eiendom.
22. “Wanneer mans met mekaar baklei en hulle 'n swanger vrou omstamp, sodat sy 'n miskraam het maar nie blywend beseer is nie, moet hy wat haar gestamp het, onderhewig aan die goedkeuring van die regbank, die boete betaal wat die eggenoot van die vrou hom oplê.
23. As sy blywend beseer is, is die straf: 'n lewe vir 'n lewe,
24. 'n oog vir 'n oog, 'n tand vir 'n tand, 'n hand vir 'n hand, 'n voet vir 'n voet,
25. 'n brandwond vir 'n brandwond, 'n wond vir 'n wond en 'n kneusplek vir 'n kneusplek.
26. “Wanneer 'n man sy slaaf of slavin op die oog slaan en dit blywend beskadig, moet hy die slaaf of slavin vrylaat as vergoeding vir die oog.
27. As hy sy slaaf of slavin se tand uitslaan, moet hy die slaaf of slavin vrylaat as vergoeding vir die tand.
28. “Wanneer 'n bees 'n man of 'n vrou doodstoot, moet die bees met klippe doodgegooi word, en sy vleis mag nie geëet word nie. Daar is nie 'n saak teen die eienaar van die bees nie.
29. As die bees tevore al stoterig was, en die eienaar se aandag daarop gevestig is, maar hy dit nogtans nie behoorlik oppas nie, sodat dit die dood van 'n man of 'n vrou veroorsaak, moet die bees met klippe doodgegooi word. Die eienaar van die bees moet ook doodgemaak word.