Eksodus 19:11-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. Hulle moet oormôre gereed wees, want dan sal Ek, die Here, na Sinaiberg toe afkom, voor die oë van die hele volk.

12. Jy moet rondom die berg vir die volk 'n grens vasstel en vir hulle sê: Julle moet oppas om nie op die berg te klim of selfs aan sy helling te raak nie. Elkeen wat aan die berg raak, moet beslis doodgemaak word.

13. “Julle mag so iemand nie met die hand aanraak nie; hy moet beslis met klippe doodgegooi of met 'n pyl doodgeskiet word. Dit maak nie saak of dit 'n mens of 'n dier is nie; hy mag nie bly lewe nie. Eers wanneer die ramshoring blaas, mag hulle die berg uitklim.”

14. Moses is toe die berg af na die volk toe. Hy het hulle beveel om hulle te reinig en hulle klere te was

15. en vir hulle gesê: “Wees oormôre gereed en moet intussen nie naby 'n vrou kom nie.”

16. Met dagbreek die derde dag was daar donderslae, weerligte en 'n donker wolk op die berg. Daar was ook die sterk, helder klank van 'n ramshoring. Die hele volk in die kamp het gebewe.

17. Toe het Moses hulle uit die kamp laat uitgaan om voor God te gaan verskyn, en hulle het by die voet van die berg gaan staan.

18. Die hele Sinaiberg het begin rook toe die Here in vuur daarheen afkom; die rook het opgetrek soos die rook van 'n oond. Die hele berg het ook geweldig geskud,

19. en die geluid van die ramshoring het al hoe harder en harder geword. Moses het gepraat, en God het hom in die donderslae geantwoord.

20. Toe die Here na die top van Sinaiberg toe afgekom het, het Hy vir Moses na die top van die berg toe geroep. Moses het daarheen opgeklim,

Eksodus 19