1. Presies drie maande na hulle uittog uit Egipte het die Israeliete in die Sinaiwoestyn aangekom.
2. Nadat hulle van Refidim af vertrek het, het hulle kamp opgeslaan in die Sinaiwoestyn, regoor die berg.
3. Moses het teen die berg uitgeklim na God toe, en die Here het van die berg af na hom geroep:“So moet jy vir die nageslag van Jakob sê,vir die Israeliete vertel:
4. “ ‘Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het.
5-6. As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, 'n koninkryk wat My as priesters dien, en 'n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’ Dit is wat jy aan die Israeliete moet vertel.”
7. Moses het toe afgeklim en die leiers van die volk bymekaargeroep en vir hulle alles vertel wat die Here hom beveel het.
8. Daarna het die volk soos een man geantwoord: “Alles wat die Here gesê het, sal ons doen.”Moses het vir die Here gaan sê wat die volk geantwoord het.