Eksodus 10:13-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. Toe steek Moses sy kierie oor Egipte uit, en die Here het daardie hele dag en nag 'n oostewind laat waai wat die sprinkane aangebring het. Die volgende môre was hulle daar.

14. Hulle het oor Egipte gekom en die hele land vol gesit, 'n yslike groot sprinkaanswerm, soos daar nog nooit tevore was nie en hierna ook nie weer sal wees nie.

15. Die land was toe onder hulle en dit was donker. Hulle het elke groen sprietjie in die land opgevreet, en alles wat na die hael aan die bome oorgebly het. Daar het geen groenigheid aan 'n boom of 'n plant in Egipte oorgebly nie.

16. Die farao laat toe haastig vir Moses en Aäron roep en hy sê: “Ek het verkeerd gedoen teen julle God, die Here, en teen julle!

17. Vergeef tog asseblief net hierdie keer my oortreding! Bid tot julle God, die Here, dat Hy hierdie dood afweer van my af.”

18. Moses het van die farao af weggegaan en tot die Here gebid.

Eksodus 10