17. En in hierdie gesig het die perde en hulle ruiters só gelyk: hulle het vuurrooi, donkerblou en swaelgeel harnasse aangehad. Die perde se koppe was soos die koppe van leeus, en uit hulle bekke het daar vuur, rook en swael uitgekom.
18. Deur hierdie drie plae, die vuur, die rook en die swael wat uit hulle bekke uitgekom het, is 'n derde van die mensdom doodgemaak.
19. Die perde se vermoë om skade te doen, is in hulle bekke en ook in hulle sterte; want hulle sterte is soos slange en het koppe, en daarmee pynig hulle die mense.
20. Die ander mense, wat nie deur hierdie plae doodgemaak is nie, het hulle egter nie bekeer nie. Hulle het aangehou met die aanbidding van bose geeste en van afgode wat hulle self gemaak het van goud, silwer, koper, klip en hout, en wat nie kan sien of hoor of loop nie.
21. Hulle het hulle ook nie daarvan bekeer om moord, towery, onsedelikheid en diefstal te pleeg nie.