12. Die eerste “Wee!” is verby. Kyk, daar kom nog twee hierna.
13. Toe het die sesde engel op sy trompet geblaas. Ek het 'n stem tussen die vier horings van die goue altaar voor God gehoor.
14. Die stem het vir die sesde engel, wat die trompet het, gesê: “Maak los die vier engele wat by die groot Eufraatrivier vasgemaak is.”
15. Die vier engele wat gereed gehou is vir hierdie uur en dag en maand en jaar, is toe losgelaat om 'n derde van die mensdom dood te maak.
16. Die aantal perderuiters van hulle leërs was miljoene der miljoene en nog 'n keer soveel. Ek het hulle getal gehoor.
17. En in hierdie gesig het die perde en hulle ruiters só gelyk: hulle het vuurrooi, donkerblou en swaelgeel harnasse aangehad. Die perde se koppe was soos die koppe van leeus, en uit hulle bekke het daar vuur, rook en swael uitgekom.
18. Deur hierdie drie plae, die vuur, die rook en die swael wat uit hulle bekke uitgekom het, is 'n derde van die mensdom doodgemaak.
19. Die perde se vermoë om skade te doen, is in hulle bekke en ook in hulle sterte; want hulle sterte is soos slange en het koppe, en daarmee pynig hulle die mense.