8. God het haar dit vergun om fyn, helder blink klere aan te trek.”Hierdie fyn klere is die regverdige dade van die gelowiges.
9. Toe sê die engel vir my: “Skryf op: Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi is.”Verder sê hy vir my: “Dit is die woorde van God, en hulle is waar.”
10. Toe het ek voor sy voete op my knieë neergeval om hom te aanbid.“Pas op, moenie!” sê hy toe vir my. “Ek is 'n mededienaar van jou en van jou medegelowiges wat aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het. Aanbid God, want dit is Jesus wat die getuienis gelewer het, en dit is die Gees wat die profesie gegee het.”
11. Toe het ek gesien die hemel is oop. Daar was 'n wit perd. Sy Ruiter word die Getroue en die Betroubare genoem. Met regverdigheid oordeel Hy en voer Hy oorlog.
12. Sy oë het soos vuur gevlam, en op sy kop was daar baie heerserskrone. Daar was 'n Naam op Hom geskrywe wat niemand anders ken nie, net Hy self.
13. Hy het klere aangehad wat met bloed deurweek was, en sy Naam is: “Die Woord van God.”
14. Die leërs in die hemel het op wit perde agter Hom aan gery. Hulle het fyn, helder wit klere aangehad.
15. Uit sy mond het daar 'n skerp swaard uitgekom om die nasies mee te tref, en Hy sal hulle met 'n ystersepter regeer. Hy sal self die parskuip trap vir die wyn, die wyn van die toorn en die oordeel van God, die Almagtige.
16. Op sy klere, by sy heupe, was daar 'n Naam geskrywe: “Die Koning van die konings en die Here van die heersers.”