Die Openbaring 14:5-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. Uit hulle mond het daar nooit 'n leuen gekom nie. Hulle is onberispelik.

6. Toe het ek 'n engel hoog in die lug sien vlieg. Hy het 'n goeie boodskap gehad wat vir ewig van krag bly. Hy moes dit aan die bewoners van die aarde, aan elke nasie, stam, taal en volk verkondig,

7. en hy het met 'n harde stem uitgeroep: “Vrees God en gee aan Hom die eer, want die tyd het aangebreek vir sy oordeel. Aanbid Hom wat die hemel en die aarde, die see en die waterbronne gemaak het.”

8. 'n Tweede engel het agter die eerste aan gevlieg en uitgeroep: “Geval, geval het die grote Babilon wat al die nasies van die dwelmdrank van haar onsedelikheid laat drink het.”

9. 'n Derde engel het agter die eerste twee aan gevlieg en hard uitgeroep: “Wie die dier en sy beeld aanbid en 'n merk op sy voorkop of op sy hand aanvaar,

10. sal van die wyn van God se toorn moet drink. Dit word onverdun in die beker van sy oordeel ingeskink. In die teenwoordigheid van die heilige engele en die Lam sal hy met vuur en swael gepynig word.

11. Die rook van hierdie pyniging styg tot in alle ewigheid op, en hierdie mense het dag en nag geen rus nie, hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en dié wat die merk van sy naam aanvaar.”

12. Hier het die gelowiges volharding nodig, hulle wat die gebooie van God nakom en in Jesus bly glo.

Die Openbaring 14