Deuteronomium 26:14-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. Ek het nie van die tiende geëet terwyl ek gerou het nie. Ek het dit nie uit my huis uit weggeneem terwyl ek onrein was nie. Ek het nie daarvan aan 'n dooie afgod geoffer nie. Ek het na U geluister, Here my God, en ek het alles gedoen wat U my beveel het.

15. Kyk tog af, Here, uit u heilige woonplek, uit die hemel, en seën u volk Israel en die land wat U aan ons gegee het soos U aan ons voorvaders met 'n eed beloof het, 'n land wat oorloop van melk en heuning.’

16. “Die Here jou God beveel jou vandag om volgens hierdie voorskrifte en bepalings te leef en om hulle te gehoorsaam. Jy moet dit doen met hart en siel.

17. Jy het vandag verklaar dat die Here jou God is, en dat jy volgens sy wil sal lewe, dat jy sy voorskrifte en gebooie en bepalings sal gehoorsaam en dat jy na Hom sal luister.

18. Die Here het vandag verklaar dat jy sy eiendomsvolk is soos Hy jou beloof het, en gesê dat jy al sy gebooie moet gehoorsaam,

19. dat Hy jou oor al die nasies wat Hy gemaak het, sal stel en aan jou meer lof en roem en eer sal gee as aan hulle, en dat jy 'n volk sal wees wat aan die Here jou God gewy sal wees soos Hy beloof het.”

Deuteronomium 26